Brittanje se prins William het ’n helikopter vir sy 32ste verjaardag gekry.

Die gelukkige koninklike het Sondag die indrukwekkende geskenk by sy ouma koningin Elizabeth gekry, het die koerant Daily Mirror berig.

William is nou die trotse mede-eienaar van die Agusta A109S Grand van ses jaar oud, wat reeds die bynaam Heirforce One het (na die Amerikaanse president se Air Force One), het ’n topspoed van 288 km/h.

Die helikopter gaan nuttig te pas kom vir die prins en sy vrou, hertogin Catherine, sodat hulle vinnig na en van afsprake vervoer en dus meer tyd met hul seun, prins George (11 maande), kan deurbring.

Die helikopter het pasgemaakte leersitplekke, kan sewe mense vervoer en gaan aan ander lede van die koningsgesin beskikbaar wees.

Dit is onbekend of William, ’n helikoptervlieënier vir die Britse lugmag, self die helikopter gaan vlieg.

Hy het in 2009 sy opleiding by die RAF Valley in Anglesey, Wallis, begin, maar het verlede jaar sy pos as soek-en-reddingsvlieënier prysgegee om te fokus op sy gesin en koninklike verpligtinge.