Brittanje se prins William loop kwaai onder kritiek deur omdat hy afslag kry op sy klasgeld.

Die 31-jarige prins betaal glo byna R180 000 vir ’n landboukursus aan die Universiteit van Cambridge. Ingeligtes beweer dit moes duurder gewees het, aangesien die 10 weke lange kursus spesiaal vir hom gereël is.

Studenteleiers kritiseer die laer klasgeld, aangesien voorgraadse studente se studiegeld sowat R160 000 per jaar beloop. Hulle het gemiddeld sowat R445 000 studieskuld wanneer hulle afstudeer.

Die adjunkvoorsitter van die nasionale studente-unie (NUS), Dom Anderson, het aan die Daily Mirror gesê: “Dis nie asof die koningin ’n tweede verband op Buckingham-paleis moes uitneem om hom deur die universiteit te help nie.

“Daar is sekerlik meer verdienstelike nagraadse studente in Cambridge as die Britse troonopvolger en erfgenaam van ’n R7 biljoen-landgoed. Baie mense voel die koningsgesin kry reeds voldoende staatshulp.”

William het op 7 Januarie met die kursus begin. Hy sal elke week 20 uur klasloop en met die ander studente meng.

’n Woordvoerder van Kensington-paleis sê: “Die kursus word privaat befonds; daarom kan ek nie nog kommentaar lewer nie.”

’n Woordvoerder van die Universiteit van Cambridge het bygevoeg: “Hierdie kursusse is ontwerp en ontwikkel vir senior uitvoerende amptenare en sakeleiers. In hierdie geval, vir ’n troonopvolger.”