Die vroedvroue by die St. Mary-hospitaal in Londen het die Britse prins William aangesê om prins George se eerste skoon doek aan te sit.

Die hertog van Cambridge en sy vrou, Catherine, se seuntjie, prins George, is op 22 Julie in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen gebore. William het onlangs vertel die gesondheidswerkers het hom aangesê om sy seun se eerste skoon doek aan te sit.

Hy vertel in sy nuwe dokumentêre program, New Father, New Hope: “’n Vroedvrou het na my gekyk en gesê: ‘Doen jy dit. Doen jy dit.’”

Prins William vertel voorts: “Hy is ’n klein wriemelaar. Hy wriemel baie. En hy wil nie so baie slaap nie, wat nogal ’n probleempie is.”

Die koninklike egpaar het prins William se ou babaoppasser, Jessie Webb (71), aangestel om hulle met die grootmaak van die derde troonopvolger te help. Sy was onlangs by om te help toe die hertogin op pad na die Kensington-paleis op ’n McDonald’s-parkeerterrein stilhou om die baba te voed.

Daar word verwag dat Jessie die nuwe ouers sal help wanneer hulle binnekort by koningin Elizabeth en prins Philip in Skotland gaan kuier.