“Ek sou graag haar raad wou hê. Ek sou graag wou hê sy moet vir Catherine ontmoet en gesien het hoe die kinders grootword,” vertel Prins William, die hertog van Cambridge in ’n eksklusiewe onderhoud met die Britse GQ-tydskrif, oor sy ma, Prinses Diana. 

In dié onderhoud met die joernalis Alastair Campbell praat William onder meer oor die belangrikheid van geestesgesondheid en hy verklap ook ’n bietjie oor sy eie gemoed.

Oor sy ma wat vanjaar 20 jaar oorlede is, sê William dat dit na baie jare eindelik beter gaan met hom.

“Ek kan meer openlik oor haar praat. Ek kan meer eerlik oor haar praat en ek kan haar beter onthou. Ek kan ook makliker in die openbaar oor haar praat.”

Tog sê William dat dit ná soveel jaar steeds moeilik is.

“Dit is ook nie dieselfde as ander mense se hartseer nie, want almal het daarvan geweet en almal het die storie geken. Almal het haar geken.”

Hy sê ander mense kan dikwels hul hartseer wegsteek en besluit of hulle hul verhaal met ander wil deel.

In die onderhoud, waarvan uittreksels op GQ se webblad gepubliseer is, vertel William ook van die Heads Together-veldtog waarby hy betrokke is.

Die liefdadigheidsorganisasie wil mense aanmoedig om meer openlik oor hul geestes- en gemoedstoestand te praat.

“Ons grootste doelwit is om die ‘taboe’ aan te pak. Mense kan nie dienste gebruik as hulle skaam voel nie, so ons moet dit aanpak en die stigma.”

Volgens William praat mense te min daaroor.

Die prins het in April, tydens ’n kort gesprek met Kate en Harry, wat as deel van die veldtog verfilm is, ook gesê hy en sy jonger broer het nooit genoeg oor hul ma gepraat nie.