Brittanje se prins William luister na buffelgeluide om te ontspan.

Die hertog van Cambridge vertel hy luister graag na dieregeluide om ná stresvolle dae te ontspan. Dit voer hom terug na gelukkige tye in Afrika.

Die hertog, wie se eerste seun, prins George, in Julie gebore is, vertel in ITV se dokumentêre program New Father, New Hope: “Ek dagdroom gereeld, en Afrika is beslis een van die plekke waarheen ek gaan. Ek het honderde diere op my iPhone; klanke en geluide van die bos. As ek ’n stresvolle dag beleef luister ek na ’n buffel, kriek of watersalamander. Dit voer jou dadelik terug na die veld. En dit laat my heeltemal ontspan.”

Die prins is die beskermheer van die liefdadigheidsorganisasie Tusk en het ’n noue band met Afrika. Hy kom gereeld hiernatoe omdat hy hou van die gevoel van vryheid wat hy hier beleef.

Hy sê: “Dis vir my ’n gevoel van vryheid. Om in die middel van nêrens in Afrika te wees, om na die projekte te kyk, die skoonheid van die natuur en die natuurlike wêreld te sien, is fenomenaal.

“Ek is mal daaroor dat jy na enige dorpie in Kenia of aan die ooskus van Afrika kan gaan en met iemand gesels en hulle het absoluut geen benul wie jy is nie. Gewoonlik droog my Swahili ná omtrent twee sinne op, maar ons ploeter voort in Engels.”