Prins William gaan Guy Pelly as ’n peetpa vir prins George benoem.

Die tweede Britse troonopvolger gaan sy goeie vriend vereer deur hom te kies as een van die ses peetouers van die klein prinsie, soos koninklike tradisie bepaal.

Die gewese baas van die Mahiki-nagklub, Guy (31), lyk miskien na ’n omstrede keuse, maar hy is nou al jare ’n vertroueling van prins William en prins Harry. Guy is nie net bekend om sy wilde partytjiestreke nie, maar daar is ook tans ’n aanklag van dronkbestuur teen hom. Hy het onskuldig gepleit en beweer dat die blaaspypie foutief was.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Hy is vreeslik in sy noppies omdat hy gekies is en almal het hom gelukgewens.

“Die prins het hom informeel ingelig. Guy was met die jare ’n baie diskrete en goeie vriend vir prins William. Hy wil hê dat daardie eienskappe aan George oorgedra moet word.”

Prins Harry en hertogin Catherine se suster, Pippa, sal waarskynlik ook gevra word om peetouers te wees.

Ander moontlike keuses sluit in James Meade, die seun van ’n oud Olimpiese perdrykampioen, William se eiendomsagentvriend Thomas van Straubenzee en die hertogin se ou skoolvriendin Alicia Fox-Pitt.

Prins George se doop, gevolg deur ’n familiepartytjie, sal waarskynlik in die herfs plaasvind.