Prins William van Brittanje het geskerts oor die “slapelose nagte” wat hy gaan beleef wanneer sy baba kom.

Die prins en sy vrou, hertogin Catherine, gaan na verwagting hul eersteling in Julie verwelkom. William het Maandag (20 Mei) baie raad gekry by die ma’s wat hy by die Help for Heroes Tedworth House-herstelsentrum ontmoet het.

Hy het skertsend gesê: “Al die ma’s het vir my gekyk: ‘Wag jy maar nie. Lang, slaaplose nagte’.”

William het Maandag die sentrum in Wiltshire in die suidweste van Engeland saam met sy broer, prins Harry, geopen. Hy het ’n babapakkie met die woorde My daddy's a hero voorop en ’n Help for Heroes-teddiebeer vir sy komende baba geskenk gekry en erken hy is opgewonde daaroor om pa te word.

Toe kpl. Josh Boggi vra of hy na ouerskap uitsien, het hy geantwoord: “Ja, baie.”

Maar die prins het die kans van die hand gewys om eerstehands kindersorg te beoefen toe die soldaat aanbied dat hy sy tweejarige seun, Jenson, vashou.

William het gesê: “Nee, nee, jy is baie gaaf.”

Tydens hul besoek het die prinse, albei aktiewe lede van die gewapende magte, verskeie beseerde en siek lede in die sentrum ontmoet. Die plek kan 50 inwoners, vier gesinne en meer as 150 dagbesoekers huisves.