Die hertog van Cambridge, wat klein prins George saam met sy vrou, Catherine, in Juliemaand aan die wêreld bekendgestel het, erken ouerskap het hom verander en hom toegelaat om emosies te ervaar wat hy nooit voorheen gehad het nie.

In die ITV-dokumentêr New Father, New Hope sê hy aan die joernalis Jane Treays: “Ek voel baie meer beskermend noudat ek ’n pa is en dis hoekom ek emosioneel raak.

“Die afgelope paar weke was vir my ’n baie ander soort emosionele ervaring; iets wat ek nooit gedink het ek sal self ervaar nie.”

Die prins, die tweede troonopvolger naas sy pa, prins Charles, en ook die beskermheer van die liefdadigheidsorganisasie Tusk, het begin huil toe hy ontstellende foto’s gesien het van ’n renoster wat onder wildstropers deurgeloop en doodgebloei het. Hy sê dit is die geboorte van prins George wat hom die wêreld deur nuwe oë laat sien.

Hy sê: “Selfs al is ek nog net ’n rukkie ’n pa, is daar baie goed wat my raak. Ek sien so iets en dan is daar vir my so baie emosie in natuurbeskerming en die omgewing.

“Die natuur is ontsettend broos en ek voel regtig ’n beskermende instink. Pa wees laat ’n mens voel jy wil intree ter wille van dit wat beskerming kort. Olifante, renosters en baie diere waarop daar jag gemaak word, het nie ’n stem nie.”