Brittanje se prins William gaan ’n lugambulans-vlieënier word.

Die 32-jarige koninklike, wat ’n gekwalifiseerde soek-en-reddingsvlieënier is, gaan blykbaar sy amptelike koninklike verpligtinge balanseer met sy deeltydse werk in Oos-Anglia, wat na bewering ’n jaarlikse salaris van sowat R740 000 betaal.

William, sy vrou, hertogin Catherine, en hul 11 maande oue seun, George, gaan na verwagting na koningin Elizabeth se Sandringham House in Norfolk verhuis.

’n Bron het aan die koerant Sunday Mirror gesê: “Dit is perfek vir hom. Hy kan koninklike verpligtinge kombineer met sy passie vir vlieg en tyd saam met sy gesin.

“Hy wil nie in hierdie stadium van sy lewe hom ten volle tot die koninklike lewe wy nie. Maar hy kan onder kritiek deurloop omdat hy al die voordele van die koninklike lewe geniet.

“Hy gaan meer tyd by Sandringham House deurbring, wat vrae gaan laat ontstaan oor presies hoeveel tyd hy by die Kensington-paleis gaan deurbring.”

’n Aankondiging oor die prins se nuwe werk gaan binne die volgende paar dae gemaak word, het die koerant berig.

William het in September verlede jaar ná drie jaar in Anglesey, Noord-Wallis, sy werk by die Britse lugmag verlaat.

Maar hy het onlangs genoem dat hy ’n terugkeer oorweeg toe hy ’n Skotse lugambulans op die dorpie Crieff besoek. Hy het aan die helikopter se bemanning gesê hy wil weer vlieg.