Die hertog en hertogin van Cambridge “vaar absoluut briljant”.

Die hertogin Catherine se oom Gary Goldsmith, haar ma, Carole Middleton, se jongste broer, is verheug om te sien dat die mooi donkerkop en prins William (albei 31) hul nuwe verantwoordelikheid as ouers so goed hanteer. Hul eerste kind, prins George, is op 22 Julie gebore.

Hy het aan die Britse uitgawe van Grazia gesê: “Hulle vaar absoluut briljant. Kate het haar voete stewig op die aarde en William weet wat hy wil hê.

“Hulle sal absoluut perfek wees en is ’n behoorlike paartjie wat dolverlief is.

“Hulle sal ongelooflik modern wees. Hulle sal oral saam wees.

“Ek dink nie hulle sal die verantwoordelikheid van hul babas op ander mense afskuif nie.”

Catherine het haar eerste verskyning ná die baba se geboorte in Anglesey, Wallis, waar prins William ’n marathon van 216 km op die eiland begin het, sonder die kleinding gemaak. Tog hou Gary vol dat hulle as ’n eenheid van drie gesien sal word en nie net as ’n paartjie nie.

Hy het gesê: “Hulle sal betrokke wees by alles wat George doen, en jy sal hulle nou as ’n eenheid van drie eerder as ’n eenheid van twee sien.”

Gary is opgewonde oor die vooruitsig om so na aan die derde troonopvolger verwant te wees.

Hy het ook gesê: “Dit was reg van die begin af, vandat Carole my vertel het dat Kate en William uitgaan, om my klein niggie oral in die pers te sien en toe hul troue, ’n sprokie. En nou is daar ’n baba wat sowaar koning gaan word.”