Die tweede Britse troonopvolger sê hy en sy vrou sal dalk mettertyd nog ’n kind hê, maar hul hande is op die oomblik vol met hul eersteling.

William het Maandag by die Sint Patricksdag-parade in Aldershot, in die suide van Engeland, aan sers.maj. Ray Collister gesê: “Miskien eendag. Een is op die oomblik genoeg.” Ray het bygevoeg: “Hy het gesê miskien as daar tyd is.”

Die hertog en hertogin van Cambridge het hul eerste openbare verskyning van die jaar by die geleentheid gemaak toe hulle vir die derde agtereenvolgende jaar by die eerste bataljon van die Ierse wag aansluit.

Die prins – wat in 2011 as kolonel van die regiment aangestel is – het die Ierse wag se manel tydens die geleentheid gedra. Nog ’n soldaat, die garde-offisier Glenn Tierney, het hulle ook oor die baba uitgevra. “Ek het hulle oor George uitgevra; ek is maar so nuuskierig. Hulle het gesê dit gaan baie goed met hom en hy is baie besig om te kruip en te eet.”

Catherine (32) het tydens die parade die klawerblaar, die simbool van Ierland, aan beamptes en adjudantoffisiere oorhandig – dit is ’n taak wat gewoonlik deur die vrou van ’n senior beampte in die regiment behartig word.