Dit blyk prins William het sy gesin geneem om prinses Diana se suster te besoek ter herdenking van sy ma se dood.

Die hertog, hertogin en prins George van Cambridge het lady Sarah McCorquodale op 31 Augustus besoek, 16 jaar ná die prinses van Wallis se dood.

Volgens die Daily Express het hulle in ’n helikopter by die Belton Woods-buiteklub naby Lincolnshire in die ooste van Engeland geklim. Dit is 10 km van die plaashuis af waarin lady Sarah woon.

Diana, wat in 1997 in Parys gesterf het saam met haar kêrel, Dodi Fayed, en Henri Paul, die bestuurder van die Mercedes Benz W140 I, is nog altyd in haar seuns se hart.

Hoewel prins William en prins Harry nog nooit graag oor hul ma se dood gepraat het nie, het William in 2009 met die bekendstelling van ’n veldtog om bewustheid oor kinders en verlies op te skerp, gesê hoe swaar dit vir hom was.

Hy het gesê: “Om nooit weer in jou lewe die woord Mummy te kan sê nie klink onbenullig. Maar vir baie, soos vir my, is dit nou net ’n leë woord wat herinneringe oproep.”

Die prinse het in 2008 ’n verklaring uitgereik waarin hulle die bevinding van die ondersoek verwelkom het dat Diana en Dodi onregmatig doodgemaak is weens die growwe nalatigheid van die bestuurder en verskeie voertuie wat agter die motor aangejaag het. Van toe af weier hulle om oor die tragiese gebeure te bespiegel.