Brittanje se prins George ontgroei vinnig sy klere.

Die klein prinsie, wat 3,8 kg met sy geboorte op 22 Julie geweeg het, is nou in ’n groeifase. Hy sal dalk nie in sy nuwe sokkerklere pas, wat hy Maandag persent gekry het nie. Dis tydens ’n amateur-sokkerwedstryd by Buckingham-paleis aan sy pa oorhandig.

In ’n video wat Dinsdagaand by die Pride of Britain Awards vertoon is, ontvang prins William ’n klein sokkertruitjie vir sy seun. Hy het ook een in sy eie grootte gekry.

Die sokkerafrigter June Kelly het ’n jong sokkerspan begin as teenvoeter vir bendes, dwelms en misdaad. Sy het die sokkeruitrusting aan William oorhandig en gesê: “Ek wou natuurlik nie hê baba George moet uitgelaat word nie en het vir hom ook ’n uitrusting gekry.”

William is die voorsitter van die Football Association (FA) en ’n groot sokkergeesdriftige. Hy het gesê baba George sal dalk net-net daarin pas. “Hy het so groot geword.”

William (31), het toe ’n mollige baba nageboots. Hy het sy arms oopgegooi, sy wange opgeblaas en gesê: “Hy is so groot!”

William het ter viering van die FA se 150-jarige bestaan ’n sokkerwedstryd tussen twee Sondagliga-amateurspanne by die Buckingham-paleis gehou. Hy het self ’n paar sokkerballe geskop tydens ’n oefenskopsessie onder aanvoering van die gewese Liverpool-skopper Michael Owen.