HY IS dalk ’n bietjie jonk om die land se nuwe boereworskoning te wees – noem hom dan sommer die nuwe boereworsprins.

Jaco Labuschagne is ’n 13-jarige laaitie vanBoksburg, hy ken sy staan agter ’n ketelbraai en hy weet hoe om ’n boereworsresep te vervolmaak. Dit het dié gr. 7-leerder van die Laerskool Concordia pas by Sun City gewys toe hy stof in die veterane se oë geskop het en as wenner in die Shoprite Checkers Championship Boereworskompetisie

aangewys is.

Die hardebaardfinaliste moes maar ewe toekyk hoe Jaco ook die sleutels van ’n Toyota Hilux 2.7 Dubbelkajuit Raised Body Raider in sy sak steek.

Die oomblik was so groot dat hy in trane uitgebars het toe sy naam as wenner uitgelees word.

‘‘Ek was baie, baie bly. Al my maats by die skool wil net saamry op die bakkie,’’ vertel die nuwe boereworsprins twee dae later.

Hy is met reg trots op sy prestasie. Dit was die eerste keer dat hy ingeskryf het, en toe braai hy nege boereworsveterane skoon onder die stof met sy smaaklike boerewors. Benewens die bakkie het hy R2 000 kontant van Coca-Cola, ’n R2 500-vakansiegeskenkbewys van All Gold en Simba-geskenkbewyse vanR750 gewen.

Die man is ook nie net knap met vleis nie; hy is ewe verstandig met sy geldsake. ‘‘Ek gaan alles spaar, Tannie,’’ verduidelik hy. “Tot ek iets nodig het, dan sal ek dit gebruik.’’

Hy gaan wel die bakkie inspan, al kan hy nog nie self agter die stuurwiel inskuif nie. ‘‘Ek is baie lief vir kampeer,’’ vertel hy.

“Ons gaan altyd by die Bloemhofdam vakansie hou en visvang, en dis die eerste plek waarheen ons nou met die bakkie sal gaan.’’ En wanneer hy sy rybewys kry, het hy ’n bakkie wat vir hom wag, voeg pa Lappies by.

Dit was juis toe pa en seun een aand ’n worsie op die kole gooi dat Jaco vir die eerste keer aan ’n eie worsresep begin dink het.

‘‘Ons proe maar altyd aan die vleis,” vertel Lappies. “Jaco het gevra wat sal gebeur as ons dit en dat meng, hoe sal dit smaak?’’

Daardie geheime bestanddele word natuurlik nie verklap nie.

Pa en seun het toe met speserye en kombinasies begin rondspeel, en hulle het dadelik geweet hulle het ’n wenresep beet.

Jaco glo die geheim van sy boerewors is in die speserye. ‘‘Ek het net twee soorte gebruik. En die soort vleis maak ’n groot verskil. Ek gebruik net top-Agraad-bees- en varkvleis,’’ vertel die knaap soos ’n gesoute slagter.

Sy boerewors sal van13Oktober op Shoprite en Checkers se winkelrakke landwyd wees, en hy is baie trots daarop.

‘‘Dis ’n baie groot eer,’’ sê hy.

Lees meer oor Jaco in die Huisgenoot van 13 Oktober 2010