Prins Philip sê hy wil nie “al die fieterjasies” van ’n staatsbegrafnis hê nie. Hy sal waarskynlik in staatsie lê in die St. James-paleis, pleks van Westminster Hall.

Brittanje se prins Philip wil nie “al die gedoentes” van ’n staatsbegrafnis hê nie.

Die 92-jarige eggenoot van die koningin dring daarop aan om nie die vertoon van ’n groot begrafnis te hê nie. Hy wil ook nie in staatsie lê in Westminster Hall in Londen nie, berig die Daily Express.

Dit lyk asof die hertog van Edinburgh se lyk in die St. James-paleis sal lê, waar prinses Diana s’n ook in 1997 vertoon is.

Die laaste koninklike wat ’n groot staatsbegrafis gehad het, was die koninginmoeder in 2002.

Meer as 200 000 mense het deur die strate van Londen gestroom om hul laaste eer aan haar te betoon terwyl sy in staatsie in Westminster Hall gelê het.

Prins Philip het voorheen ook sy wense oor sy begrafnis uitgespreek. Hoewel hy ’n eenvoudige begrafnis verkies, het hy aan sy vrou, koningin Elizabeth, se versoeke gehoor gegee.

’n Bron het vertel: “Hy wil alles eenvoudig hê, maar het ingestem vlae by alle koninklike wonings, insluitende Buckingham-paleis en Windsor-kasteel, mag halfstok hang.”