Die hertog van Edinburg, wat vroeër vandeesweek 92 geword het, gaan sy sewende nag by die London Clinic in Harleystraat deurbring, maar die prins van Wallis (64) sê sy pa is op die herstelpad.

Op ’n vraag oor hoe dit met Philip gaan, het hy geantwoord: “Dit gaan baie beter, baie dankie.”

Charles se skoonsuster Sophie (48), die gravin van Wessex en die vrou van Charles se broer Edward (49), het Philip gister besoek en ’n koelsak gedra wat waarskynlik peuselhappies vir hom bevat het.

Philip is verlede Donderdag in die hospitaal opgeneem. Dis onbekend hoekom hy die operasie ondergaan het; dit is gereël nadat iets ongewoons tydens ’n roetine-ondersoek ontdek is. Die uitslae sal later vandeesweek beskikbaar wees.

Philip sal na verwagting twee weke lank in die hospitaal bly en daarna twee maande lank by die Buckingham-paleis aansterk.