Brittanje se prins Harry is glo haastig om met Cressida Bonas te trou.

Die 29-jarige prins meen Cressida is die regte vrou vir hom. Hy wil glo sy wilde lewe van partytjie hou laat vaar en al volgende jaar met die 24-jarige sosiale vlinder trou.

’n Bron het aan The Telegraph gesê: “Cressie gaan met Harry trou. Hy hou nie op praat oor trou en kinders nie, en sy het nou aan die idee gewoond geraak. Die troue sal seker volgende jaar wees.”

Die twee is erg oor mekaar sedert prinses Eugenie, Harry se niggie, hulle in Mei 2012 aan mekaar voorgestel het. Cressida het later glo koue voete gekry, aangesien sy gedink het sy is te jonk vir trou.

Dit het verander nadat die prins in Januarie teruggekeer het van sy vier maande lange militêre diens in Afghanistan. Terwyl hy daar was, het hulle mekaar gereeld gebel.

Hulle is die afgelope tyd onskeidbaar en word baie saam gesien. Hulle het onder meer ’n James Blunt-konsert bygewoon, asook die gewilde musiekopvoering The Book of Mormon in Londen.