Die rooikop-prins het sy gesigshare laat groei tydens sy 320 km lange ekspedisie verlede maand in Antarktika vir die liefdadigheidsorganisasie Walking for the Wounded, en sy ouma is glad nie mal oor die voorkoms nie.

Maar volgens berigte gaan Harry nie binnekort sy baard afskeer nie, ten spyte daarvan dat sy 87-jarige ouma volgens bronne verkies dat hy deftiger lyk en “gladgeskeer” is.

Aanhangers van die 29-jarige prins het op Twitter die lighartige veldtog Prince Harry vs Queen Elizabeth begin om hom aan te moedig om sy baard te behou.

Een het geskryf: “Liewe prins Harry, herinner jou ouma daaraan dat Edward VI + VII baarde gehad het + Victoria se Albert, George V, en Michael van Kent. Jou baard is ’n tradisie!”

’n Bron het aan die Sunday Express gesê: “Die koningin het vinnig haar misnoeë te kenne gegee. Sy gee nie om as mans in die koningsgesin ’n baard het as hulle deel is van die leër of in die wildernis, soos Harry in Antarktika was nie, maar verwag dat hulle gladgeskeer moet wees wanneer hulle by die huis is.

“Koninklike personeel is nie veronderstel om ’n baard of snor te hê nie en sy dink waarskynlik dis moeilik om dié reël toe te pas as haar eie kleinseun ’n baard het.”