Prins Harry was ’n teiken vir die Taliban terwyl hy in Afghanistan militêre diens verrig het.

’n Aanvoerder van die rebelleleiers het onthul hulle het die Britse prins as ’n gewone soldaat beskou en hom ’n paar keer gevange probeer neem.

Qari Nasrullah het aan die Daily Mirror gesê: “Terwyl jul prins hier was en sy Apache-helikopter gevlieg het en die moedjahedien (selfaangestelde heilige vegters) gebombardeer het, het ons vegters nie juis ’n sagte plekkie vir hom gehad nie.

“Wat die moedjahedien betref, was hy net ’n gewone soldaat wat vir Amerika geveg het. Dis hoe ons hom beskou.

“Hy is dalk ’n prins in Brittanje, maar vir ons is hy ’n gewone soldaat . . . daar was baie planne om hom gevange te neem . . . maar hy kon ontvlug. Dalk was dit sy goeie geluk.”

Prins Harry het al gepraat oor ’n aanval op Kamp Bastion op sy verjaardag, 15 September. Dit was enkele dae nadat hy in Afghanistan aangekom het.

Hy het gesê: “Natuurlik het die koerante by die huis geskryf: Dis net oor my. Niemand weet werklik nie.

“In elk geval, hierdie kamp is in die middel van Afghanistan en kan enige tyd aangeval word. Dit was boonop op my verjaardag, dus het dit my nogal teruggeruk na die werklikheid.”