Brittanje se prins Harry en Chelsy Davy is glo weer ’n paartjie.

Die jong prins en Chelsy was tussen 2004 en 2010 in ’n aan/af verhouding voor hy met sy volgende meisie, Cressida Bonas, begin uitgaan het. Maar sedert hulle verlede jaar uitmekaar is, klap die skindertonge oor Harry en Chelsy wat glo weer ’n hegte band gevorm het. En nadat Harry (30) verlede week laat hoor het dit sou lekker wees om iemand spesiaals in sy lewe te hê, lyk dit of Chelsy weer bereid is om hul verhouding nog ’n kans te gee. “Chelsy was nog altyd die een vir Harry. Hulle is nou wel ’n ruk lank al uitmekaar, maar hulle pas van nature by mekaar en het dit geniet om mekaar weer te sien. Hulle is weer saam en kyk wat gebeur,” het ’n bron aan die Britse tydskrif Grazia gesê.
'Chelsy het beslis die hef in die hand.'

“Chelsy het beslis die hef in die hand. Sy weet wat ’n lewe saam met hom behels, maar hulle is al deur soveel saam.

Die openbare aankondiging dat hy reg is om rustig te raak, is sy manier om vir haar te wys hy is ernstig.”

Die bron sê hulle het reeds ’n rits afsprake beplan, waaronder om tyd in Suid-Afrika deur te bring vanwaar Chelsy se pa, Charles, afkomstig is.

Daar is dalk selfs ’n paar amptelike koninklike aangeleenthede in die pyplyn.

“Chelsy gaan in die somer in Suid-Afrika wees en Harry het ingestem om te kom kuier. Hulle beplan ’n safari en ook om tyd saam met Chelsy se ouers deur te bring. Dis ’n spesiale plek vir hul albei,” sê die bron.

“Sy het daartoe ingestem om verskeie geleenthede later vanjaar saam met Harry by te woon, maar dis ’n ope vraag of hulle saam gaan opdaag en vertrek.”

© Cover Media