Prins Harry het met besoek aan Australië ’n vlaag Harry-waansin ontketen.

Die aantreklike prins was baie gewild onder die plaaslike bevolking tydens sy 36 uur lange naweekbesoek aan Australië. Die plaaslike koerante het hom die gewone mens se prins gedoop.

Harry het Saterdag aan die International Fleet Review in Sydney se hawe deelgeneem. Dit was met die herdenking van die Australiese vloot se aankoms in die hawe ’n eeu gelede. Hy het daarna Perth toe gevlieg om Sondag ’n gedenkdiens vir gesneuwelde soldate van spesiale magte by te woon.

Skares het Harry verwelkom. Sommige het skertsend aangebied dat hy met hul dogter trou.

Selfs die nuwe eerste minister, Tony Abbott, se dogters was nie immuun teen die rooikop-prins se sjarme nie. Hulle het hom ontmoet op ’n amptelike geleentheid in Admiral House in Kirribilli, Sydney.

Toe hy sy dogters, Frances (22) en Bridget (20), aan Harry voorstel, het Abbott gesê: “Hulle is albei baie opgewonde om jou te sien.”

Colin Barnett, die premier van Wes-Australië, het die prins beskryf as ’n aangename jong man wat vol energie is. Harry het hom gevra waar die beste plek is vir branderry.

Die joernalis Andrew Hornery het geskryf Harry is gewild onder die jonger geslag, en dis goed vir die koningsgesin. Volgens was, was “die idee van ’n koning of koningin in ’n ver land wat aan die hoof staan van ons moderne demokrasie” vir baie Australiërs “effens irriterend”.