“Wat is jy?”

As ’n tweerassige vrou is dit maar een van die indringende vrae wat Meghan Markle “elke week” van haar lewe moet aanhoor. In ’n treffende inskrywing op haar blog, vertel sy hoe die mens wat die vraag stel selde tevrede is om te weet sy is ’n aktrise, ’n skrywer, die hoofredakteur van haar leefstylhandelsmerk The Tig, ’n heel goeie kok en ’n voorstander van handgeskrewe aantekenings. Pleks daarvan sê sy vir hulle wat hulle soek. “My pa is Kaukasies en my ma Afro-Amerikaans. Ek is half-swart en half-wit.”

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

Meghan, wie se verhouding met prins Harry van Brittanje haar in die kollig laat beland het, skryf al sou dit makliker gewees het om te praat “oor watter grimering ek verkies”, kies sy “om dapperder te wees, ’n bietjie dieper te gaan, en ’n veel groter prentjie” van haar ervarings as ’n tweerassige vrou te deel.

Die Suits-aktrise skryf verder oor haar kinderjare in ’n “buurt wat loofryk en bekostigbaar was”. “Maar wat dit nie was nie, is divers. En daar word my ma, karamel van gelaat, met haar ligtevel-baba by haar, gevra waar my ma is, want hulle het aangeneem sy is die kinderoppasser. “Ek was toe te jonk om te weet hoe dit vir my ouers was, maar ek kan vir julle sê hoe dit vir my was – hoe hulle die wêreld om my prakseer het om my te laat voel ek is nie anders nie, maar spesiaal.” Sy vertel sy was gaande oor ’n boksstel Barbie-poppe toe sy sewe jaar oud was. Die stel, The Heart Family, het “ ’n ma-pop, pa-pop en twee kinders” ingesluit.

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

“Die volmaakte kerngesin is net in stelle van wit poppe of swart poppe verkoop. Ek onthou nie ek het die een bo die ander begeer nie; ek wou net een hê.

“Op Kersoggend kry ek toe my Heart Family toegedraai in geskenkpapier met blinkertjies op: ’n swart ma-pop, ’n wit pa-pop en ’n kind in elke kleur. My pa het die stelle uitmekaar gehaal en my gesin aangepas.”

Meghan skryf ook oor haar ervarings in gr. 7 toe haar ouers “my nie soveel kon beskerm soos hulle kon toe ek jonger was nie”. “Daar was ’n verpligte sensus wat ek in my Engels-klas moes voltooi. Jy moes in een van die kassies ’n regmerkie maak om jou etnisiteit aan te dui: wit, swart, Spaans of Oosters. “Daar kyk ek (my krulhare, my sproetgesig, my bleek vel, my gemengde ras) toe af na die kassies. Ek wil nie droogmaak nie, maar ek weet nie wat om te doen nie. Jy kon net een kies, maar dit sou wees om een ouer bo die ander te kies – en een helfte van myself bo die ander. My onderwyser het vir my gesê ek moet die kassie vir Kaukasies merk. “ ‘Want dis hoe jy lyk, Meghan,’ het sy gesê.”

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

“Ek het my pen neergesit. Nie as ’n daad van verset nie, maar eerder ’n simptoom van my verwarring. Ek kon myself nie sover kry om dit te doen nie, om my die krop-van-die-maag-hartseer voor te stel wat my ma sou ervaar as sy moes uitvind. Toe merk ek nie ’n kassie nie. Ek het my identiteit leeg gelaat – ’n vraagteken, absoluut onvolledig – baie soos ek gevoel het.” Toe daardie sewejarige die aand huis toe gaan, het sy vir haar beligtingsregisseur-pa vertel wat gebeur het. “Hy het die woorde gesê wat my altyd bygebly het: ‘As dit weer gebeur, teken jy jou eie kassie.’ ”

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

Buiten oor haar kinderjare skryf sy oor haar rol as Rachel Zane in die trefferregsreeks Suits. Sy beskryf dit as die “Goue Lokkies van my akteursloopbaan – waar ek eindelik net reg was”. “Die program se vervaardigers het nie iemand gemeng gesoek nie, trouens ook nie iemand wit of swart nie. Hulle het bloot vir Rachel gesoek,” skryf sy. Maar toe die vervaardigers ’n swart man met ’n donker vel kies om Rachel se pa te speel, het Meghan steeds rassistiese aanmerkings van kykers gekry. “ ‘Hoekom sou hulle haar pa swart maak? Sy’s nie swart nie’ tot ‘Ga, sy’s swart? Ek het eers gedink sy is sexy’,” het Meghan geskryf.

Die aktrise het haar plasing met ’n inspirerende boodskap afgesluit. “Terwyl my gemengde afkoms dalk ’n grys gebied rakende my self-identiteit geskep het, het dit my met ’n voet aan albei kante van die heining gehou; ek het dit omarm,” skryf sy. “Om te sê wie ek is, om te deel waar ek vandaan kom, om my trots uit te spreek daaroor om ’n sterk, selfversekerde vrou van gemengde ras te wees.

“Dus maak jy ’n keuse: Hou aan om jou lewe te lei terwyl jy verward in die bodemlose put van selfmisverstand voel of jy vind jou identiteit onafhanklik daarvan.

“Jy skep die identiteit wat jy vir jouself wil hê, nes my voorouers gedoen het toe hulle hul vryheid gekry het.”