Die geliefde rooikopprins was net 12 jaar oud toe sy ma, Diana, in 1997 weens ’n motorongeluk dood is. Dit het sy lewe heeltemal ontwrig.

In 'n onlangse onderhoud het hy vertel hoe dit hom geraak het: Hy het paniekaanvalle gekry.

Hy het gesê as jy weet waarvoor om uit te kyk, kan jy die tekens in ander mense raaksien. In sy geval was dit daardie pak en das wat hy moes dra elke keer dat hy saam met talle mense in ’n vertrek was. “Die sweet het my afgetap,” vertel hy.

Ek moes dit net wegsteek

“Ek het letterlik soos ’n wasmasjien gevoel terwyl my hart boem, boem, boem, boem.”

Al wat hy wou doen, was om uit die vertrek en van die geselskap te ontsnap. Maar hy kon nie. “Ek moes dit net wegsteek.”


Hoe intens traumaties die verlies van Diana was vir hom en sy broer, prins William (35), het eers vroeër vanjaar bekend geword toe die twee oor geestesgesondheid praat.

Harry het tydens ’n onderhoud met David Henson, ’n Paralimpiese naelloper van Brittanje, vertel hy het jare ná sy ma se dood steeds alle emosies probeer onderdruk.

“Dit was 20 jaar van nie daaroor dink nie,” het hy gesê.

Daarna het twee jaar van 'n absolute chaos volgens hom gevolg. Op die ouderdom van 28 het hy professionele hulp gekry om sy kop skoon te kry.

Harry het groot lof gehad vir William, wat hom bygestaan en aangemoedig het om hulp te kry.

Ek kan nou bloed, sweet en trane inspan vir sake wat werklik ’n verskil maak

Terwyl Harry sy koninklike verpligtings moes nakom, het sy emosies gewissel van angstig tot woedend. Soms was hy selfs bang hy gaan iemand te lyf. Hy het leer boks en dit het hom sy woede help beheer.

Deesdae, vertel die gewilde prins, gaan dit op persoonlike en professionele vlak baie beter.

“Ek kan nou bloed, sweet en trane inspan vir sake wat werklik ’n verskil maak.

“Jy help jouself sodat jy ander kan help.” 

Harry is tussen 2007 en 2013 twee keer in Afganistan ontplooi. Hy het verklap dit het hom gehelp om sy emosionele probleme te begin oorkom.

Bronne: today.com, forces.net, itv.com