Die Britse koninklike (nou 31) was net 12 jaar oud toe Diana, prinses van Wallis, in Augustus 1997 weens ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, oorlede is.

By ’n geleentheid ten bate van Heads Together, die liefdadigheidsorganisasie vir geestesgesondheid wat hy en sy broer, prins William (34), gestig het, het Harry met die voormalige Engelse sokkerster Rio Ferdinand gesels oor hoe hulle die dood van geliefdes verwerk het. Rio se vrou, Rebecca Ellison, is verlede jaar ná ’n stryd teen kanker dood.

Volgens die BBC het Harry gesê hy is spyt hy het eers op 28 openlik oor sy gevoelens gepraat. By die geleentheid het hy aan die uitsaaier gesê hy bewonder Rio daarvoor dat hy ná sy vrou se dood oor geestesprobleme gepraat het.

“Dit is baie maklik om na iemand soos Rio Ferdinand te kyk en te sê: ‘Jy word al die geld in die wêreld betaal, jy is ’n suksesvolle sokkerspeler, jy het vinnige motors.’ Maar op stuk van sake is sy vrou vroeg van hom weggeruk. Natuurlik sal hy swaarkry; dit maak nie saak of hy ’n wonderlike werk het nie.”

Rio (37) het vertel hy het by Harry aanklank gevind, want sy drie jong kinders moet nou die dood van hul ma verwerk. “Hy het deur die fases gegaan wat my kinders nader,” het Rio gesê. “Dit help my om te hoor waardeur hy is.”

Ná ’n jare lange stilte in die openbaar oor die dood van Diana, wie se heengaan wêreldwyd betreur is, praat Harry en William nou ál meer in onderhoude daaroor.

[caption id="attachment_132584" align="alignnone" width="533"]Foto: Wenn Foto: Wenn[/caption]

In Maart vanjaar het Harry op die Amerikaanse ontbytprogram Good Morning America gesê hy hoop sy ma sou trots gewees het op sy liefdadigheidswerk. “Ek veronderstel ek hoop sy kyk met trane in haar oë na ons en is ongelooflik trots op wat ons gevestig het,” het hy gesê.

“Ek is seker sy wil graag hê ek moet kinders hê sodat sy weer kan ouma word, maar ek hoop, weer, alles wat ons doen, privaat en amptelik, maak haar trots.”

© Cover Media