Brittanje se prins Harry het ’n Chileense gesin se TV reggemaak sodat hulle hul nasionale span se wêreldbekersokkerwedstryd teen Brasilië kon kyk.

Die 29-jarige koninklike, wat Saterdag in die Chileense dorpie El Vergel aangekom het, het ’n plakkershut besoek wat behoort aan Coca Perez (50) en haar tienerseun en –dogter toe hy opmerk hul TV werk nie reg nie, het die koerant The Express berig.

Coca het gesê: “Hy het daarna gekyk en toe met die kabel begin peuter.

“Hy het dit weer laat spel sodat ons later die sokkerwedstryd tussen Chile en Brasilië kon kyk. Nou kan ek vir almal sê prins Harry het herstelwerk aan my TV gedoen.”

Die prins het die dorpie saam met die liefdadigheidsorganisasie Techo besoek twee maande nadat ’n bosbrand die gebied vernietig het. Inwoners se huis is verwoes en 15 mense is dood.

Maar die prins is steeds optimisties oor die dorpie se herstel.

Hy het aan Coca gesê: “Dit blyk die ergste is verby; nou moet julle net wag.”

Sy het geantwoord: “Ons moet net wag en geduldig wees. Ons het nie ’n keuse nie.”

Tydens sy besoek aan Chile – ná sy besoek aan Brasilië verlede week – het die jong koninklike ook die Children of Jesus-stigting besoek, wat sorg vir gestremde kinders.

Harry het duidelik sy besoek aan die inrigting geniet, waar hy foto’s ontvang het en deelgeneem het aan die kinders se uitvoering op die maat van Katy Perry se treffer Firework.