Harry (29) sou Dinsdag vir die Suidpool vertrek, maar ’n storm het die prins vir twee dae in Kaapstad teruggehou terwyl hy en Britse oorlogsveterane wat in die South Pole Allied-uitdaging 2013 gaan deelneem wag dat die weer opklaar.

“Op die oomblik wag ons net,” het Alexandra Hunter-Dunn, woordvoerder vir die liefdadigheidsorganisasie Walking With The Wounded, aan CNN gesê. “Hulle oefen so bietjie en stap by Tafelberg op en in Kaapstad.”

Harry en veterane wat in die oorlog beseer is, is deel van die Britse Glenfiddich-span, die True Blood-akteur Alexander Skarsgard is ’n erelid van die Amerikaanse span, en Dominic West, ster van The Wire, sluit aan by die Statebondnasies se spanne van Kanada en Australië.

Die spanne, wat uit sewe mense bestaan, sluit ook ’n gids en mentor in. Hulle gaan Antartika oor sowat 334 km deurkruis in temperature van -35 grade Celsius om geld vir die liefdadigheidsorganisasie in te samel vir die heropleiding en opvoeding van gewonde soldate.

Wanneer hulle by die Novo-stasie in Antartika opdaag, sal hulle vir drie dae akklimatiseer voor hulle die ekspedisie aanpak wat na verwag 16 dae sal duur. Die vertraging beteken daar is ’n kans dat Harry en ander deelnemers nie Kersfees by die huis sal wees nie.