Johannesburg – Nadat prins Harry van Brittanje in die Krugerwildtuin gesien is, het ’n Wildtuinwoordvoerder, William Mabasa, bevestig die koninklike was in die reservaat. “Ek kan bevestig hy is as ’n toeris in die Krugerwildtuin. Ons word nie toegelaat om oor ons toeriste te praat wanneer hulle ons besoek nie. Omdat hy ’n besoeker is, moet jy hom vra hoekom hy die reservaat besoek,” het Mabasa in ’n telefoniese onderhoud met The Write News Agency gesê.

Hy het verder gesê die prins se veiligheid sal in ag geneem word.

’n Woordvoerder van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, Rey Thakhuli, kon nie Mabasa se stellings bevestig nie en het gesê hy weet niks van Harry se besoek aan die wildtuin nie.

Volgens ’n bron by die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe het ’n lid van die koninklike familie verlede week op die lughawe aangekom, maar geen ander besonderhede is bekendgemaak nie.

Vroeër het Traveller 24 vir The Daily Mail aangehaal en berig dat Harry (30) by ’n militêre kamp in Suid-Afrika aangesluit het en saam met ’n weermageenheid in die Krugerwildtuin op nagpatrollies gegaan het. Tydens een so ’n patrollie verlede Woensdag is vermeende wildstropers na bewering ná ’n skietery aangekeer. Sanparke het gesê: “Die wildbewaarders het op drie vermeende stropers afgekom. ’n Skietery het gevolg en een stroper is gewond.”

Al drie verdagtes is in hegtenis geneem, en daar is beslag gelê op twee jaggewere, knaldempers, ammunisie en ander wildstrooptoerusting.

News24