Luidens berigte het die enigmatiese Harry behoorlik vlerkgesleep by sers. Elizabeth Marks, van Arizona, wat by die Invictus-spele vir beseerde militêre personeel en veterane aan swemnommers deelgeneem het.

As organiseerder van die geleentheid het die rooikopprins ’n bedrywige week gehad by die spele wat van 8 tot 12 Mei in Orlando, Amerika, gehou is.

Maar die 31-jarige het steeds tyd gehad om met Elizabeth ’n band te smee. Volgens die Britse Mirror “het flirterige ontmoetings tussen die twee sosiale media aan die gons gehad toe hulle ’n paar ure saam deurbring”.

“Toe hulle mekaar ontmoet, het hulle dadelik goed oor die weg gekom,” het ’n toeskouer aan die agentskap gesê.

“Sers. Marks is uiters aantreklik en Harry het duidelik by haar aanklank gevind ná alles wat sy bereik het.”

Die twee is die eerste keer saam gekiek terwyl hulle diep in gesprek was nadat die 25-jarige eerste was in die 100 m-vryslag – waartydens Harry skynbaar haar indrukwekkende volbeen-tatoe bewonder het.

Kort daarna het Elizabeth, wat ’n ongelooflike vier goue medaljes tydens die spele gewen het, een van haar medaljes aan Harry teruggegee en hom gevra om dit vir die personeel van ’n Britse hospitaal te gee wat in 2014 haar lewe gered het.

“Toe sy vra haar medalje moet gegee word aan die dokters en verpleegsters wat in Brittanje haar lewe gered het, was hy, net soos ons, stomgeslaan,” vertel die toeskouer.

Die volgende dag het die twee mekaar weer by ’n rolstoelrugby-geleentheid raakgeloop en mekaar met ’n soen op albei wange gegroet.

Harry het ook by die swemmer se tent gaan inloer, waar hy haar laat skaterlag het toe hy probeer om haar spanbaadjie aan te trek.

Elizabeth is ’n militêre mediese werker wat in 2010 in Irak ernstige beserings opgedoen het wat haar sonder gevoel in haar linkerbeen gelaat het, berig MailOnline.

Ná drie operasies het Elizabeth, wat op 17 al by die weermag aangesluit het, genoeg beweeglikheid herwin om te kan loop. Swem het ’n groot deel van haar rehabilitasie behels.

Lees ook: Die weelderige lewe van prinses Diana se broerskinders

In die proses het sy haar ongelooflike swemtalent ontdek en in 2014 na Brittanje gereis om aan haar eerste Invictus-spele deel te neem.

Maar toe sy in die land aankom, het Elizabeth ernstig siek geword toe sy weens ’n longtoestand inmekaarsak.

“Ek was in ’n hospitaal in Londen en het respiratoriese noodsindroom ontwikkel. Hulle het ’n span van Papworth laat kom wat my op Ekmo-lewensondersteuning (ekstrakorporeale membraan oksigenering) geplaas het, wat eindelik my lewe gered het,” het Elizabeth gesê.

Lees ook: Ontmoet al die koninklike kleinkinders op die foto wat vir die koningin 90ste verjaardag geneem is

“Maar hulle het my lewe gered en ek kan Brittanje nie genoeg daarvoor bedank dat hulle daardie soort mediese steun het en my so goed versorg het nie.

“Ek het vir prins Harry een van my medaljes gegee en hoop dit sal Papworth bereik.”

Volgens die BBC was die prins, wat met die idee vir die spele vorendag gekom het, die inspirasie daarvoor dat Elizabeth haar goue medalje vir die 100 m-vryslag weggegee het.

Bronne: Mirror, MailOnline, BBC

Ander stories op Huisgenoot.com

Bekende SA avonturier en sy trouvrou onthul ekstreme wittebroodplanne

Te skattig! Geliefde Afrikaanse sanger deel eindelik foto’s van vroeggebore kleinding

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly