Dié 30-jarige koninklike is reeds oom van sy broer William se twee kinders, die 20 maande oue prins George en die pasgebore prinses Charlotte. Harry is tans op toer in Nieu-Seeland as deel van sy pligte as lid van die Australiese Weermag. Omdat hy so ver van die huis af is, dink hy oor hoe dit sal wees om sy eie gesin te hê.
'Ek sou natuurlik graag nou al kinders wou hê, maar daar is ’n proses wat deurgewerk moet word en toere soos dié is groot pret...'

“Daar kom tye in ’n mens se lewe dat jy dink dat die tyd ryp is om gevestig te raak, of nou is nie die regte tyd nie. Hoe dit ook al sy, ek dink nie jy kan hierdie soort ding dwing nie, dit sal gebeur wanneer dit moet,” het hy aan Rhiannon Mills, die koninklike medewerker by Sky News, gesê.

“Ek sou natuurlik graag nou al kinders wou hê, maar daar is ’n proses wat deurgewerk moet word en toere soos dié is groot pret. Hopelik vaar ek goed as enkeling. Dit sou wonderlik gewees het om iemand aan my sy te hê om die druk te deel, maar, jy weet, die tyd sal kom en wat ook al moet gebeur, sal gebeur.”

Prinses Charlotte is op 2 Mei gebore. Harry was toe reeds in Nieu-Seeland en hy het nog nie die nuwe aankomeling gesien nie, hoewel William en Catherine hom op die hoogte van haar vordering hou.

“Sy was ’n bietjie laat; dus het ek haar aankoms misgeloop. Dit is iets waaraan sy sal moet werk, maar dit is fantastiese nuus vir hulle albei en ek is so opgewonde,” het hy gesê met ’n glimlag en bygevoeg dat William vir hom foto’s van die baba stuur om hom op die hoogte te hou.

Harry is tans op ’n uitgebreide toer en hy beplan om so veel moontlik van die land te sien. Hy geniet dit geweldig, maar het verduidelik dat hy ook moet werk vir sy welstand. Oor hierdie feit stem hy en William, wat ’n lug-ambulansvlieënier is, saam.

“Ons voel albei dat ons ook ’n salaris moet verdien en dat ons met die gewone mense moet saamwerk sodat ons gesond van gees en aan die gang kan bly. Uit ons oogpunt sal ons vir seker in die toekoms saam met ander mense moet werk om ’n betekenisvolle, geldige bydrae te lewer en ook sodat mense kan sien ons is ernstig,” het hy verduidelik.

Harry het nie net te doen gekry met vrae van professionele mense nie; hy moes ook navrae van oorsese bewonderaars beantwoord. Kinders van die skool in Half Moon Bay op Stewart Island het hom uitgevra oor sy lewe as koninklike, en een van hulle wou graag weet of hy sy ouma, koningin Elizabeth, “nan” noem. Harry het verduidelik dat hy verkies om haar “granny” te noem.

Nog een wou weet hoekom sy oupa, Philip, nie ’n koning genoem word nie, al is hy met die koningin getroud. Hulle wou ook weet of hy in ’n kasteel woon.

“Ongelukkig woon ek nie in ’n kasteel nie en ek besit ook nie eens ’n kroon nie,” het hy gelag.

© Cover Media