Die jong paartjie was meer as twee jaar saam voor hulle vroeër vanjaar uitgemaak het, maar is onlangs saam by die Invictus-spele gewaar. Harry het die sportbyeenkoms gereël waar meer as 300 beseerde en siek soldate teen mekaar meegeding het.
'Cressida het tyd gehad om te dink.'

“Cressida het tyd gehad om te dink en is bereid om Harry nog ’n kans te gee. Hulle praat baie en Harry het ’n baie sagte benadering probeer,” het iemand in die binnekring aan die Britse tydskrif Grazia gesê.

“Cressida sou nie Harry se uitnodiging na die spele aanvaar het as sy nie gesien wou wees nie; daarom sê dit baie dat sy daar was. Hulle het agterna aandete by sy woonstel geëet.”

Harry (30) is aan ’n rits pragtige vroue gekoppel nadat hulle uitgemaak het.

Hy het alte danig gelyk met die liefdadigheidswerker Camilla Thurlow en daar is berig dat hy saam met Bryan Ferry se eksvrou, Amanda Sheppard, uitgehang het.

“Cressida sou dit nie aam hom erken nie, maar dit sou glad nie verbasend wees as sy jaloers is op die meisies aan wie Harry gekoppel is nie. Dit het haar laat besef sy wil graag hul verhouding nog ’n kans gee,” sê die bron.

Die rooikop-prins is glo in die wolke oor die moontlikheid dat hy en Cressida versoen kan raak, maar wil dinge dié keer stadiger vat.

“Harry was platgeslaan toe Cressida hul verhouding beëindig. Hy het ’n bietjie rondgekuier, maar hy is nog dolverlief op haar en het nooit heeltemal die idee laat vaar dat hy haar wil terugwen nie. Hy wil haar nie afskrik nie; daarom vat hy dinge rustig. Maar hy hoop hulle sal in die nabye toekoms opmaak.”

© Cover Media