Prins Harry is ingesneeu in ’n Antarktika-kamp.

Die 29-jarige prins en sy ekspedisielede is ná ’n yslike storm gedwing om in die veiligheid van hul kamp te bly. Dit kan hul plan vertraag om die tweede kamp op hul 320 km lange wedloop na die Suidpool te bereik.

Deelnemers aan die Walking With The Wounded South Pole Allied Challenge 2013, waarvan Harry die beskermheer, moet uiterste toestande trotseer. Ongelukkig het die storm veroorsaak dat die prins en sy span nie kon deelneem aan sommige van die ski-oefeninge nie, wat hulle moes help aanpas by die ysige temperature van -10 °C.

Luidens berigte het die spanne van Brittanje, Amerika en die Statebond in dié tyd gerus en hul toerusting georganiseer.

Harry het Vrydag 22 November in Antarktika aangekom en gesê die ysige temperature het “slegte herinneringe” teruggebring van sy ekspedisie na die Noordpool in 2011.

Hy het aan Sky News gesê: “Dis verstommend hoe, binne net ses uur, jou geestesgesteldheid van baie hoog, van amper oor die randjie, tot in die dieptes kan daal.

“Die weer was veronderstel om goed te wees, maar dit lyk of dit slegter word.”

Saam met Harry is oudsoldate. Sommige het beserings oorkom wat hul lewe verander het.

Die groep sal tussen 14 en 19 km per dag in temperature van so min as  -45 °C en winde van tot 80 km/h na die Suidpool stap, terwyl hulle swaar sleë trek.