Prins Harry van Brittanje het onlangs vertel hy verpes die mikroblog-netwerk Twitter omdat dit  op sy privaatheid inbraak maak, het koerante Dinsdag berig. Harry het met studente gesels by ’n geleentheid waar hy voorbrand gemaak het vir die eersdaagse eerste Invictus-spele – ’n multi-sportgeleentheid soortgelyk aan die Paralimpiese Spele vir gewonde troepe.

Die Spele, die vierde Britse troonopvolger se idee, word tussen 10 en 14 September in Londen gehou. Harry was by die geleentheid om sertifikate te oorhandig aan skoolkinders wat hul opleiding in sosiale media voltooi het.

Die 29-jarige prins het die jongspan aangemoedig om betrokke te raak by die Spele op sosiale netwerke soos Facebook en Twitter – maar erken hy sal nie dieselfde doen nie. “Ek sou graag op ’n gereelde basis wou twiet oor dinge waaroor ek omgee – as mense dit sou wou hoor, sou dit gaaf wees,” het Harry gesê.

“Die probleem vir my en my familie is eenvoudig dat dit baie moeilik vir my is om oor die Invictus-spele te twiet en oor iets te twiet wat baie vir my beteken, terwyl ek terselfdertyd Twitter verpes weens die inbraak op privaatheid. Ek dink julle almal weet waarvan ek praat.”

Die weermagkaptein se opmerkings is vertolk as ’n verwysing na hoe mense foto’s en besonderhede oor sy doen en late deel wanneer hy in die openbaar is. Foto’s van hom wat by ’n partytjie in Las Vegas kaalbas met ’n blondine baljaar, het ook destyds op Twitter gedraai.

Harry het gesê hy het in die verlede sosiale netwerke gebruik. “Ek gebruik nie sosiale media nie; ek het voorheen.”

Daar is berig dat hy ’n Facebook-profiel onder die skuilnaam Spike Wells gehad het wat skielik ná die voorval in Las Vegas verdwyn het.