Prins Harry het gister by die Statebondspele ’n foto van drie Nieu-Seelandse rugbyafrigters gefotobom.

Die 29-jarige koninklike kan op die agtergrond van die foto gesien word waar hy duime omhoog ondeund glimlag. Sir Gordon Tietjens, Trevor Shailer and Gary Hermansson het vir die foto poseer terwyl hulle die 800 m-vryslagitem vir vroue in Glasgow gekyk het.

Trevor was so beïndruk met die foto dat hy dit kort daarna sy Facebook-profielfoto gemaak het met die volgende onderskrif: “Foto van die dag . . . ’n Koninklike fotobom deur prins Harry met Titch (sir Gordon) en Gary Hermansson by die swem. Dankie aan Bev Hari wat die foto geneem het; dis lekker om ons atlete by die Statebondspele in Glasgow te ondersteun!”

Harry se fotobom volg nadat sy ouma koningin Elizabeth (88) haar ook in die agtergrond van die Australiese hokkiespeler Jade Taylor en haar spanmaat Brooke Peris se selfie bevind het.

Die foto, wat Jade (29) getwiet het, wys hoe die vroue vir die kamera glimlag terwyl die koningin, van kop tot tone in mentgroen, glimlaggend in die agtergrond staan.

Sy het die foto met die volgende onderskrif getwiet: “Ah, die koningin het ons selfie gefotobom!! #royalty #sheevensmiled #amazing #Glasgow2014 @Hockeyroos @AusComGames (sic).”

Intussen het die Statebondspele verlede Woensdag in Skotland begin nadat die koningin die geleentheid formeel by die Celtic Park-stadion geopen het.