Brittanje se prins Harry en sy meisie, Cressida Bonas, bring deesdae meer tyd saam deur.

Die rooikop-prins en sy 24-jarige meisie het glo uitmekaargedryf nadat Harry ’n ruk oorsee was. Hy het onder meer ’n liefdadigheidsreis na die Suidpool onderneem. Die paartjie se verhouding is nou glo op sy sterkste.

Volgens die Sunday Express was Harry (29) “besonder aandagtig” toe Cressida onlangs swaargekry het. Christopher Shaw, ’n gewese stiefpa, is drie weke gelede dood aangetref, moontlik weens ’n oordosis dwelms.

Christopher (76) was haar ma, lady Mary Gaye Curzon, se vierde man. Hy het blykbaar ’n belangrike rol in Cressida se kinderjare gespeel.

Die oudbankier het nierkanker gehad. Twee jaar gelede het dokters gesê hy sou net 18 maande leef. Sy huishoudster het op sy lyk afgekom in sy gehuurde huis in Salisbury, Wiltshire.

Harry en Cressida het die afgelope 20 maande ’n aan-af-verhouding. Hulle is verlede maand, vergesel van lyfwagte, opgemerk in die Londense restaurant Byron in Kensington High Street, naby die Kensington-paleis.

Die paartjie en die lyfwagte was langer as ’n uur in die restaurant. Hulle het daarna geklim in die prins se motor wat deur ’n derde man bestuur is.