“Hulle beplan om binne die volgende week te ontmoet om alles te bespreek,” sê ’n bron. “Cressida se pa het gesê hulle kan sy plaashuis in Norfolk gebruik sodat hulle privaatheid kan hê.”

Die verhouding is na bewering verbreek omdat Harry wou hê Cressida (25) moes meer soos ’n koninklike optree as hulle verloof sou raak. Die blondine is glo huiwerig om Harry se skoonsus, die elegante hertogin Catherine, se voorbeeld te volg.

Iemand in die binnekringe het aan die Britse tydskrif Grazia gesê: “Cressida het die afgelope paar maande die indruk gekry dat daar vir haar gesê word sy deftiger moet wees. Sy gaan nie in die volgende Kate verander nie. Sy hou van haar boho-voorkoms en sal vir niemand verander nie. Sy het dit vir Harry gesê. En dit is veelseggend dat sy onlangs in haar kenmerkende Dr. Martens-skoene gewaar is.

“Sy is ’n onafhanklike meisie en sal haar nie deur ’n verhouding laat voorskryf nie. Sy kom uit ’n adellike familie en sy koninklike status beïndruk haar glad nie. Sy wil net saam met Harry wees.”