“Sy was te veeleisend en dit het net nie meer gewerk nie,” is hoe People ’n bron na aan Harry aanhaal.

Clarence House, prins Charles (Harry se pa) se kantoor, wou nie kommentaar lewer nie.

Die Telegraph berig die skeiding is dalk net tydelik.

“Hulle het beslis net ’n blaaskans van die verhouding geneem,” het ’n ingeligte bron aan die koerant gesê.

“Dit is amper onmoontlik om ’n suksesvolle verhouding te hê terwyl die wêreldmedia se oë op jou gerig is,” het die bron gesê, en bygevoeg niemand kan voorspel wat die toekoms vir Harry en Cressida inhou nie.

Harry se broer, William, het in 2007 uitgemaak met sy vrou, Catherine, maar was ’n paar maande later weer saam. Hulle het in 2011 getrou.

Cressida en prins Harry, die vierde troonopvolger, is die eerste keer in Julie 2012 saam gesien.

Prinses Eugenie, Harry se niggie, het hulle aan mekaar voorgestel. Die 24-jarige prinses is ’n vriendin van Cressida. Die paartjie het hul verhouding uit die kollig probeer hou.

In Maart is Harry en Cressida binne ’n naweek twee keer saam gesien, wat die Britse media laat bespiegel het hul verhouding raak ernstiger.

Hulle was liefderik tydens ’n geleentheid in die Wembley-arena in Londen, en die skindertonge het geklap daar kom nog ’n koninklike troue.

Twee dae later is hulle in die Twickenham-stadion gewaar by ’n Sesnasies-rugbywedstryd.

Cressida – die dogter van die model Mary-Gaye Curzon en die entrepreneur Jeffrey Bonas – werk in die bemarkingsbedryf in Londen.