Prins Harry is volgens ’n nuwe meningspeiling die sexyste rooikopman.

Die 29-jarige prins het Michael Fassbender, die akteur van 12 Years a Slave, in ’n meningspeiling van die Britse Hartstigting uitgestof en is aangewys as die sexyste rooikopman. Meer as 2 000 mense is in die ondersoek gevra wie hul gunsteling-rooikopman is.

In die derde plek is die Homeland-ster Damian Lewis. Benedict Cumberbatch, die Sherlock-akteur, is vierde.

Die meningspeiling is deel van Ramp up the Red, die Hartstigting se geldinsamelingsveldtog vir die bestryding van hartkwale. Die veldtog behels onder meer die dra van rooi klere en pruike.

Polly Shute, ’n verteenwoordiger van die Hartstigting, sê: “Rooikoppe weet hoe om die aandag te trek. Word een van hulle; word so rooi moontlik en kleur jou hare rooi of dra ’n rooi pruik as ’n teken dat jy ons saak ondersteun.

“Dis maklik, en jy sal geld help insamel vir noodsaaklike navorsing, ondersteuning en sorg.”