Rooikop-koningin. Dis hoe prins Harry van Brittanje homself gedoop het toe hy tydens ’n onlangse aandjie uit gaan kegelbal speel het.

Die 28-jarige prins was verlede Vrydag saam met vriende, onder wie die sangeres/aktrise Natalie Imbruglia en sir Richard Branson se seun, Sam, by All Star Lanes in die weste van Londen.

Harry het die naam Ginger Queen vir homself ingevul voor hy en sy pelle gratis bier probeer wen het met hul slag op die kegelbaan.

“Dit het nogal onwerklik gevoel. Ons het die een oomblik kegelbal gespeel en mengeldrankies geniet om my pel se verjaardag te vier en die volgende oomblik het ons saam met ’n prins kegelbal gespeel,” het ’n omstander aan die koerant Metro gesê. “Harry en sy pelle was baie mededingend. Harry het die kegels ’n paar keer laat omval.”

Harry en Natalie het dit so geniet dat hulle gevra het om verder te speel en toe ’n privaat kamer gekry het waar hulle die spel kon voortsit. Die prins, wat gereeld by die kegelbaan gesig wys, het selfs ingestem om ’n aandenking agter te laat.

“Hulle het almal groot pret gehad. Prins Harry kom gereeld hierheen en is duidelik mal oor kegelbal speel. Hy het selfs sy handtekening op ’n kegel vir ons gegee,” het ’n bestuurder gesê.