Brittanje se prins Harry boks om fiks te bly.

Die 29-jarige koninklike het onthul hy beoefen die sport by die huis om sy fiksheidsvlakke te verbeter. Dit was tydens ’n verskyning Dinsdag by die Gorbals-ontspanningsentrum in Glasgow, Skotland, nadat hy Declan Gilmour (wat die afgelope vier jaar boks) aanvat.

Declan het die koerant Daily Mirror vertel: “Hy het my eintlik met ’n telling van 3-2 in skouertikke geklop en ek het hard probeer. Hy het gesê hy doen boksoefeninge by die huis. Hy gebruik net ’n slaansak en sê hy wil fikser raak.”

Die rooikop-prins en sy broer, prins William (31), het kinders besoek wat deel is van die Coach Core-program, wat hulle verlede jaar begin het.

Harry het Nathan Bawuah (21), ’n leerling-afrigter van Londen, verras toe hulle teen mekaar boks. Die uitslag was 2-2.

Nathan het gesê: “Hy was baie rats. Ek het dit nie verwag nie. Hy was so lig op sy voete, regtig rats.

“Hy het my so baie laat sweet. Ek het in ’n lang tyd nog nie so beweeg nie.”

Terwyl Harry met sy boksvaardighede gespog het, het William sy hand (of voet) aan sokker gewaag.

Voor die einde van hul kuier het die broers deelgeneem aan ’n vyf-aan-’n-kant-sokkerwedstryd. Harry se span het gewen nadat hy Lauren Weir (21) gehelp het om die enigste doel aan te teken.