Brittanje se prins William sê prins George het ’n stem wat net so hard is soos enige leeu se brul.

Die hertog en hertogin van Cambridge het Vrydagaand die Tusk Trust-prysuitdeling vir uitsonderlike prestasie in bewaring, in Londen bygewoon. Die hertog het in sy toespraak gesê: “Soos julle dalk weet, het ek en Catherine onlangs die trotse ouers geword van ’n baba met ’n stem wat net so hard is soos enige leeu se brul!

“Ons is vanaand die eerste keer sonder hom uit. Verskoon tog as ons senuweeagtig na ons selfone loer om te kyk of alles goed gaan by die huis.”

Hy het voorts gesê: “Soos enige nuwe ouers dink ons onwillekeurig aan die wêreld wat ons kind sal erf. Dis onmoontlik om jou voor te stel dat kinders wat die afgelope paar maande gebore is, dalk in ’n wêreld sonder enige wilde renosters kan grootword.”

Dit was die hertogin Catherine se eerste amptelike verskyning sedert die geboorte van prins George. Sy was die middelpunt van belangstelling in ’n pragtige, vloerlengte Jenny Packham-aandrok. Die prins, wat beskermheer is van die liefdadigheidsorganisasie, het ’n eenvoudige pak gedra.