Prins George se naam is wel ’n eerbewys aan sy koninklike voorouers, maar die hertog en hertogin van Chertogin van ambridge het glo ook die name gekies omdat hulle daarvan hou.

William en Catherine het Woensdagaand aangekondig hul baba sal prins George Alexander Louis heet en hoewel die naam duidelik historiese betekenis het, is daar glo op die name besluit omdat dit die egpaar se gunsteling-name was.

“Moenie te veel lees in die name nie,” het ’n bron aan Us Weekly gesê. “Dis nie bedoel om simbolies te wees nie; dis net name waarvan hulle hou.”

Nicholas Witchell, die BBC se koninklike korrespondent, het gesê hoewel George ’n huldeblyk is aan die koningin se pa, koning George VI – sy regte naam was Albert – was die paartjie regtig dol oor die name. Die baba se tweede naam, Louis – wat ook sy pa se vierde naam is – is waarskynlik ’n eerbetoon aan lord Louis Mountbatten, ’n familielid aan wie prins Charles baie geheg was.

Alexander het ook koninklike bande: Koningin Elizabeth se tweede naam is Alexandra en dit was die naam van drie Middeleeuse Skotse konings. Kinders in die koninklike gesin kry volgens tradisie historiese name wat aan generasies oorgedra word, maar prins George sal ’n alternatiewe naam kan kies wanneer hy die troon bestyg. As hy sy naam behou, sal hy koning George VII wees.

Peter Hunt van die BBC het gesê die tradisie is dalk aan die uitsterf omdat die aantal middelname mettertyd verminder het. Hy het getwiet: “Koninklike name word minder. Edward VIII het sewe gehad; prins Charles het vier; prins William vier; en prins George drie. #princegeorge.”