Die hertogin van Cambridge sê prins George se geboorte was perfek.

Catherine, wat op 22 Julie die lewe geskenk het aan haar en prins William se eersteling, het met haar vriende gesels oor die eenvoudige proses en het gesê sy is bly daar was nie komplikasies nie.

’n Bron het aan Vanity Fair se Amerikaanse weergawe gesê: “Sy het ná die geboorte met ’n paar van haar vriendinne gesels en die geboorte as perfek geskryf. Sy het gesê dit was eenvoudig; daar was geen komplikasies nie. Sy wou ’n natuurlike geboorte hê en is bly sy kon dit doen.”

Vir haar ma, Carole Middleton, het moederskap ewe natuurlik gekom toe Catherine 31 jaar gelede op 9 Januarie 1982 gebore is.

’n Familievriend van die Middletons, George Brown, het vertel: “Dit het my nie verbaas nie. Sy (Carole) was van die begin af fiks en bevoeg. Dit het gelyk asof moederskap vir haar natuurlik was, en toe ek by haar gaan inloer, het sy doodgelukkig geborsvoed en dit het gelyk asof sy presies weet wat sy doen.”

Catherine, wat voor haar troue met prins William in 2011 as Kate Middleton bekend was, was ’n liewe baba.

Hy het voorts gesê: “Catherine was ’n pragtige klein babatjie, ’n regte ou engeltjie met ronde wangetjies, en stroopsoet. Ek kan onthou dat sy nie baie gehuil het nie. Ek dink dit was seker omdat Carole so ontspanne was.”