Australië se tropiese noordelike gebied het Donderdag ’n ongewone geskenk aan die Britse koninklike baba, prins George, gegee: ’n krokodil wat uitgebroei het op die dag dat aangekondig is sy ma verwag.

Die klein reptiel, ook genaamd George, is bekendgestel deur Adam Giles, wat dit as ’n “unieke geskenk” beskryf.

“Sy eier het op 3 Desember uitgebroei, dieselfde dag dat Kate en William die wêreld meegedeel het sy verwag,” het Giles aan verslaggewers gesê.

Die geskenk is ’n voortsetting van tradisie. Darwin, die gebied se hoofstad, het William en Kate twee krokodille as ’n verlowingsgeskenk gegee. Volgens Giles is die krokodille steeds plaaslik op uitstalling “vir die hele wêreld om te sien”.

Giles het gesê hy hoop die geskenk sal die koningsgesin vir ’n besoek na die omgewing lok.

Die regering het ’n Facebook-blad, George the Royal Croc, begin sodat die prins kan sien wat die krokkie alles aanvang. Giles het gesê die jong koninklike sal elke jaar ’n kaartjie ontvang om op hoogte van sy naamgenoot se doen en late te bly.

Wanneer die krokodil 18 word, sal George volgens Giles “aangemoedig word om hom dalk huis toe te neem. Ons weet prins George en die koninklike egpaar sal baie geskenke en gelukwensinge van oor die wêreld ontvang. Dit is iets unieks aan die noordelike gebied dié,” het hy gesê.

Kevin Rudd, Australië se eerste minister, het vroeër vandeesweek gesê die land gaan die prins ’n kopie van die gewilde kinderboek Possum Magic, asook ’n sagte speelding, gee en dat ’n navorsingsprojek oor dié klein buideldiertjies ter ere van hom befonds sal word.

– Sapa

sapalogo