Teen volgende week sal foto’s uitgereik word van prins William, Catherine en hul seun, prins George.

Kensington-paleis sal ’n fotograaf kies om die koninklike egpaar saam met hul week oue seun te kiek. Die foto’s sal na verwagting deur middel van ’n skakel op die Twitter-rekening Clarence House aan die wêreld bekend gemaak word.

’n Woordvoerder het gesê die fotosessie word beplan terwyl William nog vaderskapverlof van die koninklike lugmagbasis in Anglesey in noordwes-Wallis het.

Die gesin is tans by Catherine se ouers in Bucklebury, Berkshire, in die suidooste van Engeland. Hulle sal die fotograaf vermoedelik vra om hulle eerder daar te gaan afneem as wat hulle na die Kensington-paleis reis.

Prins Philip (92) het sy pasgebore agterkleinseun nog nie ontmoet nie, maar sal hom waarskynlik by sy doop ontmoet. Amptelike foto’s van dié twee sal na verwagting eers ná George se doopplegtigheid in Oktober geneem word.

Philip sterk aan by die Sandringham-landgoed in Norfolk nadat hy verlede maand ’n buikoperasie ondergaan het.

Dis nou tensy William en Catherine besluit om na koningin Elizabeth en Philip se somerhuis by Balmoral in Skotland te reis, waar Elizabeth vakansie hou. Philip vlieg middel Augustus daarheen om by die monarg aan te sluit.

’n Koninklike woordvoerder het aan die Daily Mirror gesê: “Hulle beplan nie nou om na Balmoral te gaan nie, maar dit kan in wel in die toekoms die geval wees.”