Die 11 maande oue prins George van Engeland het sy ma, hertogin Catherine, en oumagrootjie koningin Elizabeth uitgestof en is as die besgeklede koninklike aangewys nadat hy in ’n onlangse opname 23 persent van die stemme gekry het.

Een ma wat aan die opname deelgeneem het, het aan die tydskrif Hello gesê: “Ek is absoluut versot op prins George se styl. Dis modern dog tradisioneel en stylvol, en beslis nie smaakloos nie.”

Catherine het die tweede plek gehaal met 21 persent, en die koningin – bekend vir haar elegante styl – is derde met 18 persent.  Prinses Beatrice, prins Andrew en Sarah Ferguson se dogter, het die vierde plek gehaal met 12 persent, gevolg deur prins Harry met nege persent, en die gravin van Wessex het ’n plek in die topvyf misgeloop met sewe persent van die stemme.

Prins William is sewende met net vier persent, en die hertogin van Cornwall, wat met prins Charles getroud is, is in die agtste plek met net drie persent. Prinses Eugenie en Zara Phillips het die top-10-lysie voltooi.  Meer as 600 mense is in die peiling, deur die modehuis My1stYears.com, gevra wie hulle dink is die modieusste koninklike.