Die egpaar kuier spesiaal in Suid-Afrika om jong mense te vereer wat ’n jeugprogram voltooi het waarvan sy pa die stigter was.

Prins Philip het The Duke of Edinburgh’s International Award in 1956 begin. Die Suid-Afrikaanse weergawe (The President’s Award) is in 1983 begin en gee jong mense tussen 14 jaar en 24 die geleentheid om aan verskillende aktiwiteite deel te neem en vaardighede te ontwikkel.

Edward het self die program voltooi en tans is daar 15 000 Suid-Afrikaners wat daaraan deel neem.

Edward en Sophie het pres. Jacob Zuma in die Table Bay-hotel in die Waterfront ontmoet waar sertifikate aan die 130 jong mense oorhandig is.

Sophie wat stylvol geklee in ’n kantrok en swart pêrel-oorbelle met beige skoene. Edward was, soos te wagte, in ’n netjies pak met navye das uitgevat

Die koninklikes was in ligte luim voor die verrigtinge begin het en albei het Zuma se hande vasgehou terwyl hy vir hulle iets vertel het. Dit was duidelik dat hy ’n komiese oomblik met hulle gedeel het en al drie het skielik uitgebars van die lag.

Die jong klomp was baie opgewonde om die belangrike gaste te ontmoet en oral in die saal was daar ’n gefluister en geskuif van stoele.

Lize-Mari Doubell was voorheen in die Hoër Meisieskool Herschel in Kaapstad en is tans ’n student aan die Universiteit Stellenbosch. “Dit was ongelooflik om aan die program deel te neem. Dit gee jou baie selfwaarde en elke kind wat dit voltooi het, kan ongelooflik trots voel.”