Rusland het prins Charles se aanmerking oor hul president skerp veroordeel.

Die Britse troonopvolger het aanleiding gegee tot ’n diplomatieke twis nadat hy die Russiese leier met die Nazi-diktator Adolf Hitler vergelyk het. Rusland se ministerie van buitelandse sake het die aanmerkings – wat Charles tydens ’n koninklike besoek aan Kanada gemaak het – beskryf as ongepas vir ’n koninklike.

Aleksander Loekasjewitsj, die woordvoerder vir die ministerie, het tydens ’n nuuskonferensie gesê: “As dié woorde regtig geuiter is, is dit baie sleg vir die toekomstige Britse monarg.

“Ons beskou die Britse koningsgesin se gebruik van die Westerse media om die propagandaveldtog teen Rusland oor ’n ernstige probleem te verder – die situasie in die Oekraine – as onaanvaarbaar, verregaande en laag.”

Rusland se ambassade in Londen het aangedring op ’n vergadering met die Britse Foreign and Commonwealth Office (FCO), en die adjunk-ambassadeur, Aleksander Kramarenko, het Donderdag ’n vergadering met Britse diplomate gehad.

Die ambassade het in ’n verklaring gesê: “Die verregaande aanmerkings wat prins Charles in Kanada gemaak het, is een van die sake wat geopper gaan word. Die ambassade het die FCO gevra vir duidelikheid oor die saak.”

Prins Charles (65) het na bewering die vergelyking tussen Poetin en Hitler getref by ’n Joodse museum tydens ’n privaat gesprek met ’n vrywilliger wie se familie uit Nazi-Duitsland gevlug het.