Prins Charles van Brittanje gaan ’n “prominenter” rol in die openbare lewe begin speel.

Die 64-jarige troonopvolger sal meer amptelike verpligtinge aanvaar om die las van sy ma, die 87-jarige koningin Elizabeth II, te verlig. Daar word selfs beweer daar word gesprek gevoer om die wette van die land te verander sodat Charles die status van regent kan verkry, iets wat tans nog net kan gebeur wanneer die heersende monarg ernstig onbevoeg raak – en in wese ’n medeheerser word.

’n Bron het aan die Daily Mail gesê: “Daar is ’n toenemende gevoel dat (die koningin) nie meer die mas soos altyd kan opkom nie. Sy nader haar 90’s. Sy het uitsonderlike uithouvermoë vir ’n vrou van haar ouderdom.

“Al haar verpligtings gaan hersien word en prins Charles, wat reeds meer doen, sal prominenter word.

“Die besprekings handel oor of dit informeel moet gebeur, soos reeds geruime tyd gebeur en of iets formelers gevolg moet word.”

Die bewerings kom nadat bekend gemaak is dat die koningin nie die konferensie van Statebondshoofde in November in Sri Lanka sal bywoon nie. Charles sal die eerste keer in 40 jaar in haar plek gaan.

Die besluit is vermoedelik geneem as deel van ’n oorsig van lang vlugte, want die bejaarde monarg wil nie te veel spanning op haar 92-jarige man, prins Philip, plaas nie. Hy vergesel haar op die meeste van haar reise.

’n Paleisbron het gesê: “Lang vlugte sal van nou af op een-een oorweeg word.”

“Daar is geen aanduiding dat die koningin se dagboek minder bedrywig sal word nie, maar dit is deel van ’n voortdurende ondersoek na die koningin se reëlings vir lang reise.”