Die 56-jarige koninklike het hom gedistansieer van Alexandre Coste Grimaldi – die 10-jarige buite-egtelike kind van die prins en die vlugkelnerin Nicole Coste – en die seun se ma blameer sy vrou, prinses Charlene, daarvoor dat sy ’n verhouding tussen pa en seun “onmoontlik” maak.

Nicole, wat onsuksesvol probeer het om Alexandre as ’n prins te laat erken, het aan The Mail on Sunday gesê: “Ek is jammer om te sê die waarheid is dat Albert Alexandre nie gesien het sedert ’n kort besoek verlede September nie. Dit het onmoontlik geword sedert hy met daardie meisie getroud is.

“Ek veronderstel dis hoe ’n mens as ’n nuwe vrou sal voel. Maar sy moet aan my onskuldige kind dink. Ek wil haar nie aanval nie, maar ek dink dis is net jaloesie en ek weet nie waarom nie. Ek is deur hel in my stryd om my seun se naam en toekoms.”

Met Alexandre se geboorte het Albert Nicole en haar seun ’n geldelike toelae en ’n villa aan die Franse Riviera gegee, en die 43-jarige mode-ontwerper sê die prins –wat ook ’n buite-egtelike dogter, Jazmin (22), het – was aanvanklik ’n toegewyde pa.

Sy sê: “Albert en sy seun het ’n liefdevolle, natuurlike pa-seun-verhouding gedeel met uitstappies en verjaardagpartytjies met ’n seerowertema.

“Die prins was trots op sy seun en het hom dikwels innig omhels.”

Nicole, wat nou in Londen woon, wil bitter graag hê Albert moet ’n groter rol in sy seun se lewe speel.

Sy sê: “Ek wil nie sien dat my seun verwerp word nie. Hy sien ander seuns in sy klas het hul pa om hulle, en dit is nie goed dat hy nooit eens van syne hoor nie. Ek is bekommerd dat dit Alexandre emosioneel sal skaad.

“Al is Albert baie vrygewig, voel ek ek kan hom nie ná sy troue kontak nie.

“Paasfees het Alexandre gesê twee goed ontstel hom. Die een is die Britse weer en die ander dat hy nooit sy pa sien nie.

“Maar ek kan nie wonderwerke vermag nie. Daar is meer aan pa wees as net geld.

“ ’n Seun het ’n pa nodig om hom deur die lewe lief te hê, te help en te lei. Ons moet ’n manier vind om dit te laat gebeur.”