Die Britse koninklike gaan al amper agt jaar met Dave Clark uit en die twee het oor die Nuwejaar ’n wegbreek in die Karibbiese streek geniet. Dit was glo terwyl hulle in St. Barts vakansie gehou het dat Dave, ’n uitvoerende hoof van Virgin Galactic, op die een knie afgesak het.
'Dave is ’n tradisionele ou.'

“Dave wou Beatrice al ’n ruk lank vra om met hom te trou en het dit maande lank beplan. Hy wou dit aanvanklik al in Oktober doen, maar toe raak dit ongelooflik besig by sy werk ná die tragiese Virgin Galactic-ongeluk. Hy het toe besluit om te wag en dit eerder op vakansie te doen. Dave is ’n tradisionele ou,” het ’n bron aan die Britse tydskrif Grazia gesê.

Beatrice is die kleindogter van Brittanje se koningin Elizabeth II en die dogter van die hertog en hertogin van York, prins Andrew en Sarah Ferguson.

Die nuus sal ongetwyfeld ’n jeuglike geleentheid wees vir die familie wat tans ’n mediastorm trotseer oor prins Andrew se vriendskap met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein.

Beatrice en Dave het vermoedelik net hul naastes en geliefdes van die verlowing vertel.

“Hulle sê vir eers net vir familie en ’n uitgesoekte groep vriende en almal verwag dat ’n aankondiging in die (Britse) lente gemaak sal word. Beatrice kon nie gelukkiger gewees het nie,” het die bron glimlaggend gesê.

Beatrice is die niggie van Brittanje se prins William en was ’n gas by sy uitspattige troue in 2011 met Catherine, die hertogin van Cambridge.

Maar die 26-jarige sal waarskynlik eerder haar ander niggie, Zara Phillips, se bruilof naboots.

“Hulle het nog nie eens daaroor gedink nie, maar dit sal waarskynlik ’n privater plegtigheid wees, soos dié van Zara Phillips en Mike Tindall,” het die bron gesê.

© Cover Media